Daad van Toewyding aan die Onbevlekte Hart van Maria
Basiliek van Sint Petrus
25 Maart 2022
O Maria, Moeder van God en ons Moeder, in dié tyd van beproewing kom ons voor u. As ons Moeder ken u ons en het u ons lief: u sien alles raak wat swaar op ons harte druk. Moeder van barmhartigheid, hoe dikwels het ons al u waaksame sorg en vreedsame nabyheid ervaar! Nooit hou u op om ons na Jesus te begelei nie, Hy wat ons Vredevors is.
Ons het van die vredesweg afgedwaal. Ons het die lesse vergeet wat ons uit die tragedies van die afgelope eeu geleer het, die offerandes van die miljoene lewens wat in twee wêreldoorloë gesneuwel het. Ons het nie ag geslaan op dit waartoe ons onsself as gemeenskap van volke verbind het nie. Ons het die vredesdrome van mense en die hoop van ons jongmense verraai. Gierigheid het ons siek gemaak en ons het net ag geslaan op ons eie nasie en ons eiebelange, ons het onverskillig en vasgevang geraak in ons eie selfsugtige begeertes. Ons het gekies om God te ignoreer, om tevrede te wees met ons eie illusies, om al hoe arroganter en aggressiewer te word, om onskuldige lewens te verdruk en wapens op te gaar. Ons het opgehou om ons naaste se bewakers en versorgers van ons gemeenskaplike tuiste te wees. Deur oorlog het ons die tuin van die aarde geplunder en deur ons sondes het ons die hart van ons hemelse Vader gebreek, Hy wat verlang dat ons broers en susters vir mekaar sal wees. Ons het onverskillig geraak teenoor alles en almal behalwe onsself. Dit is met skaamte dat ons uitroep: Vergewe ons, Here!
Heilige Moeder, te midde van die ellende van ons sondigheid, te midde van ons worstelinge en swakhede, te midde van die geheimenis van dié onreg van boosheid en oorlog, herinner u ons daaraan dat God ons nooit in die steek laat nie, dat Hy voortgaan om ons met liefde te aanskou en dat Hy altyd bereid is om ons te vergewe en ons tot nuwe lewe te verhef. Hy het u aan ons gegee en van u Onbevlekte Hart ‘n toevlug vir die Kerk en alle mense gemaak. Deur God se genaderyke wil is u altyd by ons; selfs in die ergste oomblikke van ons geskiedenis is u hier om ons met u deernisvolle liefde te lei.
Ons wend ons nou tot u en klop aan die deur van u hart. Ons is u geliefde kinders. In elke tyd maak u uself aan ons bekend, en roep u ons op tot bekering. Staan ons by in hierdie donker uur en skenk ons u vertroosting. Sê weereens aan ons: “Is ek, wat julle Moeder is, nie nou hier nie?” U is daartoe in staat om die knope wat ons harte en tye verstrengel los te maak. In u plaas ons al ons vertroue. Vol vertroue weet ons dat u, veral in tye van beproewing, gehoor sal gee aan ons smeking en ons tot hulp sal snel.
Dit is wat u by Kana in Galilea gedoen het, toe u voorspraak gedoen het by Jesus en Hy die eerste van sy wondertekens gedoen het. Om die blye viering van die huweliksfees te bewaar, het u aan Hom gesê: “Hulle het nie meer wyn nie” (Joh 2:3). Herhaal nou, o Moeder, daardie woorde en gebed, want vandag het die wyn van hoop vir ons opgeraak, ons vreugde het weggevlug en ons broederskap het verdwyn. Ons het van ons mensheid vergeet en met die gawe van vrede gemors. Ons het ons harte oopgemaak vir geweld en vernietiging. Hoeveel het ons nie u moederlike bystand nou nodig nie!
Verhoor daarom, o Moeder, ons gebed.
Ster van die See, laat ons nie in die storms van oorlog skipbreuk ly nie.
Ark van die Nuwe Verbond, besiel ons projekte en paaie van versoening.
Koningin van die Hemel, herstel God se vrede op aarde.
Verwyder alle haat en die drang na wraak, en leer ons vergifnis.
Bevry ons van oorlog, bewaar ons wêreld van die gevaar van kernwapens.
Koningin van die Rosekrans, help ons besef hoe nodig ons gebed en liefde het.
Koningin van die Menslike Familie, wys mense die pad van broederskap.
Koningin van Vrede, verkry vrede vir ons wêreld.
O Moeder, laat u smartryke oproep ons harde harte ontroer. Laat die trane wat u om ons ontwil stort hierdie vallei wat deur haat opgedroog is weer laat blom. Laat u gebede ons gedagtes na vrede keer, selfs te midde van die gedreun van wapens. Laat u moederlike aanraking hulle wat lyding verduur en op vlug is voor die bomme tot rus bring. Laat u moederlike omhelsing hulle vertroos wat gedwing was om hul tuistes en vaderland te verlaat. Laat u Smartryke Hart ons medelydend maak en ons inspireer om ons deure oop te maak om ons broers en susters wat beseer en verstote is te versorg.
Heilige Moeder van God, soos u onder die kruis gestaan het, en Jesus die dissipel langs u gesien het, het Hy gesê: “Kyk, daar is u seun” (Joh 19:26). So het Hy elkeen van ons aan u toevertrou. Aan die dissipel het Hy gesê: “Kyk, daar is jou moeder” (v. 27). Moeder Maria, ons begeer om u nou in ons lewens en in ons geskiedenis te verwelkom. Op hierdie uur staan ‘n vermoeide en radelose mensdom langs u onder die kruis, met die behoefte om ons aan u toe te vertrou en deur u ons aan Christus te wy. Die volke van Oekraïne en Rusland, wat u met soveel liefde vereer, wend hulle nou tot u, soos u hart nou vol medelye vir hulle klop en vir almal wie se lewens deur oorlog, honger, onreg en armoede verwoes word.
Daarom vertrou ons en wy ons nou plegtig onsself, die Kerk en die hele mensdom, veral Rusland en Oekraïne, aan u Onbevlekte Hart toe. Aanvaar hierdie daad wat ons nou vol vertroue en met liefde uitvoer. Gee dat die oorlog tot ‘n einde sal kom en vrede oor die wêreld sal versprei. Die “Fiat” (laat dit met my gebeur) wat uit u hart gekom het, het die deure van die geskiedenis vir die Vredevors oopgemaak. Ons vertrou dat vrede weereens deur u hart oor ons wêreld sal opgaan. Aan u wy ons die toekoms van die hele menslike familie, die behoeftes en verwagtinge van alle volke, asook die angste en hoop van ons wêreld.
Mag God se barmhartigheid deur u voorspraak oor die aarde uitgestort word en die sagmoedige ritme van vrede terugkeer om ons dae af te tel. Onse Liewe Vrou van die “Fiat”, waarop die Heilige Gees neergedaal het, herstel in ons die harmonie wat van God afkomstig is. Laat u, ons “lewende fontein van hoop”, die droogte in ons harte natlei. In u moederskoot het Jesus vlees aangeneem; help ons om eensgesind te wees. U, wat eenmaal in die strate van ons wêreld geloop het; lei ons nou op die paaie van vrede. Amen.
Vertaal deur Bisdom Oudtshoorn